Advertisements
Don't miss out...

’n Ope brief aan die mensdom

Hierdie hoogs publieke manier van kommunikasie is mos deesdae hoogmode. En, hoe cool sou dit nie wees as ek hierdie met die hand kon skryf en aflewer nie. Maar helaas papierbriewe, en tot ’n mate selfs die koerante waarin só ’n ope brief sou verskyn, is van vergange dae.

So here goes – my stuiwer in die beurs, appeltjie te skil en eier te lê…

Ek begin deur ’n argaise Duitse woord op te haal…

‘Drek’. Ek’s absoluut mal oor dié woord. Veral ook as mens dit kan kombineer met ‘opdis’. Mense dis drek op. Op sosiale media, in koerante, om die braaivleisvuur….

Ek het nie tyd vir praatjies nie. Dalk omdat ek ’n introvert is. Dalk omdat ek besef die lewe is kort en tyd is kosbaar.

Wat ek ook nie heeltemal kan kleinkry nie is dat mense nou eers begin mor oor die sogenaamde fake news. Gehele industrieë is daarop gebou en het ook weer daaroor gestruikel. Wie onthou nog The News of The World? En Die Son is steeds met ons. Die skrif was seker ook aan die muur toe LIFE toegemaak het. Lesers se onversadigbare aptyd vir dit wat die kleinskerm kan opdis. Jou daaglikse skinder en hoes-poep-en-stikstorie nou gerieflik in jou broeksak.  En dit het nie daar gestop nie. O nee. Ons maak nou self die pap lekker dik aan en stuur dit rond as evangelie in ons pretensieuese buurtwag en familie groepies.

Moet my egter nie verkeerd verstaan nie. Ek geniet ’n goeie twak praat en meme op sy tyd. Maar waarmee is ons as die mensdom besig? Hoe ver kon ons al gevorder het as ons nie ure op sosiale media spandeer het nie! Die web is ’n wonderlike ding, maar ons is verstrengel daarin. Pleks dat ons dit gebruik om ons kennis uit te brei, maak ons dit ’n bokskryt waar ons boelie en brag oor banaliteite.

Als is nou pornografie. Elke denkbare emosie kan gou en goedkoop met die media masturbasie van die minuut verwek word.

En dis die skokkendste van die fake deel. Dis nie net ons feite wat nie eg is nie. Ons is nie meer egte mense nie. Ons voel net beperkte basiese begrippe wat ons kies om met klein karikature te deel, of nie. Dit terwyl ons ongelooflike komplekse wesens is wat smag om hulself uit te druk en verstaan te word. Hoe kuns enigsins in hierdie klimaat moontlik is, is effe verbysterend.

Daar word voordurend nuwe gevoelsgesiggies vir ons gerief bygevoeg. Straks sal die hele spektrum menslike emosie gekarteer en standardiseer wees; sal ons unieke wesens eendag onverhoeds integreer in die groot globale drek. Beheer deur korporasies en dalk masjiene wat ons gebruik vir batterykrag soos in die flieks. Ook net die mens wat só ’n storielyn kan uitdink. Sonkrag is soveel meer doeltreffend op die lange duur.

Maar daar is nog ligpuntjies. Hier en daar enkeles wat omgee. Mense wat besef hulle is nie alleen op die aarde nie en ’n oop hand aanbied pleks van ’n vuis. Dié engele om ons is skaars, maar hulle is nog hier. Koester hulle. Moet hulle nie uitroei of vervreem nie. As jy self nie die oplossing wil wees nie, moenie iemand anders verhoed om ’n bydra te lewer nie.

Dalk as ons ophou jaag na die goudpot aan die einde van die reënboog en ’n oomblik stilstaan om die kleure te waardeer sal ons weer ten volle mens kan word.

’n Gesegde wat my ma graag gebruik het, veral om na maatjies met ’n sogenaamde ‘verkeerde’ invloed te verwys, is: “Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou”. En dis presies dit. Waarvan die hart vol is, loop die mond van oor. En seker anders om ook. Waaraan jy jouself blootstel sal seker op die langer duur deel raak van jou. So, gaan jy kies om te verdrink in die daaglikse drek of gaan jy swem na die kant, uitklim en help om op te ruim?

Vir diegene wat hou van prentjies of wat tot onder gescroll het in die hoop dat daar prentjies sou wees, gaan loer bietjie na ’n poem in hierdie verband wat ek ’n ruk terug geskryf het en wat my wonderlike talentvolle ander helfte met sy videokuns kombineer het:

 

Advertisements
About maanvrou (4 Articles)
Maanvrou is al meer as drie dekades lank met die maan gepla en poog dan om die slapeloosheid met die pen te beveg.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: