Advertisements
Don't miss out...

’n Kuier Oppiestoep met Andries en Pietman

Source: Oppiestoep

’n Tweede seisoen van die gewilde storievertelprogram Oppiestoep, begin Vrydag 7 Julie op Kyknet. Ek het by Klein Parys Wynlandgoed ’n draai gaan maak om met aanbieders, Pietman Geldenhuys en Andries Vermeulen, te gesels oor hul program, hul vriendskap, en hul groot liefde vir stories vertel.

Andries en Pietman het altwee groot geword in ’n storievertelkultuur. Daar is duidelik vir die mans ’n mate van nostalgie betrokke by die aanpak van hierdie projek. Hulle vertel my die titel van hulle program is uitgedink deur oom Ollie Viljoen, voorheen die regisseur van Maak ‘n Las. Toe hulle die program beplan het is die werk van die “groot honne” van Afrikaanse storievertel gekonsulteer.

Dit was vir ons belangrik dat ons die goud wat gebeur het in Spies en Plessié en Maak ‘n Las vasvang. So ons het gaan kyk na Jan en PG, en ons het gaan kyk na oom Tolla. Hoekom het dit gewerk? Wat het hulle gegee wat dit so great gemaak het? Ons het van die staanspoor afgesê, daai “kuier om die tafel” is belangrik.

-Andries

Die idee met Oppiestoep was nooit om die ou classics te probeer naaap nie, maar wel om ’n unieke produk vir vandag se gehore te skep, wat die heimwee en magic van hulle heroes se stories nog kan raakvat.  Oppiestoep is so aanmekaar gesit dat die hele gesin daarna kan kyk en dit geniet. Daar is nou en dan ’n taktiese bleep, maar die algemene inhoud van die stories is gepas vir alle ouderdomsgroepe.

Die doel van dié is ook om storievertel by kinders te bewaar.

-Pietman

Die program trek gaste van reg oor die land so streekstaal en storiestyl verskil. Waar Vrystaters en Gautengers van ’n sleepwaentjie praat, dring Karoomanne aan mens noem dit ’n “komsaam”. ’n Verteller se hele manier van wees sê sommer vir jou van waar hy kom.

Die energie en die woorde wat hy kies as hy praat… Ouens in die gehoor kan dadelik hoor só klink ’n ou van Klerksdorp, ’n ou van Pretoria,  ’n Boesmanlander.

-Andries

Daar is alhoewel een ding wat amper alle goeie storievertellers in gemeen het: die aanbieders noem dit die gebruik van “binnekos.”

Die grootste kuns in storievertel is om iets te beskryf of te laat gebeur, sonder om dit te sê… Dit vind ons in 90% van die ouens wat ons nooi na die program toe… Hulle kan om woorde werk, of om krasgeid werk, om iets te sê wat nie daar is nie.

-Andries

Die twee aanbieders laat my verstaan stories het celebrities van gewone mense gemaak lank voor sosiale media daar was om dit te doen, want ’n goeie storie versprei soos ’n veldbrand. Selfs al voor die dae van Spies en Plessié was storievertellers al helde.

Voor televisie was Renier Grootlieg de Winnaar ’n celebrity. Mense van orals het hom gekry om te kom stories gesels. Ek dink dit was Jan Smuts wat spesiaal ’n event gaan bywoon het waar hy gaan praat het.

-Pietman

Pietman vergelyk die storievertellers van ouds met deesdae se Twitter heroes: ouens wiese name hulle vooruit geloop het sonder retweets of shares. Ouens wiese followers in troppe opgedaag het by kerksale en plaasstoepe om op kombuisstoele, hooibale en kratte te sit en vir ure na hulle stories te luister.

Hulle raak nie net in hulle eie dorp legendes nie, maar in die dorpe om hom… Een storie kan 600, 800 km travel en die kern bly dieselfde, al word hy langs die pad bietjie ingekleur.

 -Andries

Soos die stories travel van dorp tot dorp, travel Andries en Pietman agterna om hulle vas te trek vir die program. Die Oppiestoep oudisieproses is informeel maar effektief. Andries en Pietman ontmoet storievertellers by braaie, kerkbyeenkomste, gholfdae, selfs die ry by die supermark. Wanneer hulle ’n goeie storie hoor word die verteller se details neergeskryf, en wanneer hulle dan weer daai dorp besoek, word die verteller genooi om te kom oudisie – te kom braai.

Storievertellers word aangemoedig om hulle pelle wat ook lekker stories vertel saam te bring. So word vrinne, van vrinne, se vrinne almal se stories gehoor. Dit beteken alhoewel nie dat as jy saam Pietman en Andries braai jy op die teevee gaan kom nie. Soms is die ou wat oorspronklik genooi is nie so snaaks soos die pel wat net saam gekom het vir moral support nie. Die setting is dalk relaxed, maar die keuringsproses is streng. Slegs 40 storievertellers kan per seisoen gekies word, as daar nog goeie kanidate oorbly word hulle gebêre vir ’n volgende seisoen.

Al was daar nog nie in AL die groot stede oudisies gehou nie, wil dit voorkom of storievertelkultuur sterker is in kleiner dorpies. Spesifiek daai wat ver is van alles en almal…

Vreemde verskynsel… Selfs met die vorige reeks het ons ook al gesien… Ons het oudisies en ons maak dit moontlik dat mense kan aansoek doen… Die ware storievertelkultuur lê van hier af tot die Weskus, tot in Springbok, tot in Upington. Sodra mens nader aan die groot stede kom is dit asof storievertel verdwyn want almal is vasgevang in city life.

–Pietman

Hier was nou ouens van Loxton en Carnarvon en die plekke gewees. En die aand toe ons op die Carnarvon gholfklub sit… Daai kontrei  kom vandag nog saam vir die boeredag, gaan saam bazaar toe, gaan na mekaar se troues toe, staan almal nog saam om grafte as iemand afsterwe. Wat vir ons so great was, was daai drie ouens, wat ons toe nou almal laat kom het vir die program… As die een ou praat en hy praat van ‘tannie Truida’, dan weet daai ander ouens presies van wie hy praat. ‘Ja man! Tannie Truida van ou Lang Piet!’ ‘Ja, ja! Tannie Truida!’ Hulle het as laaities saam groot geword… Hulle is saam in een kern van beweging.

-Andries

Tussen die klomp stories wat deur boere en dorpsmanne aangedra word, is daar ook vertellers wat stories en vermaak hulle dayjobs gemaak het. Dowwe Dolla, Danie Niehaus en Pedro Kruger is van die bekendes wat in dié seisoen saammet Pietman en Andries gaan feature.

Die twee aanbieders se persoonlikhede amper teenpole van mekaar. Waar Pietman voor ’n vertoning alleen wil sit en konsentreer, sit Andries soos ’n tropdiertjie (sy woord, nie myne nie) saam met die gehoorlede en kuier tot hulle moet begin. Andries raak opgewonde en maak vinnig besluite oor die program, Pietman wil eers bietjie dinge deurdink. Tog komplimenteer hulle mekaar soos peanutbutter en stroop.

Vir die twee weke van die jaar wat hulle opneem is Andries en Pietman kollegas. Die ander 50 weke is hulle vriende en vertrouelinge in mekaar se lewens. Andries en Pietman ken mekaar so goed dat hulle in ’n vertrek vol toeskouers en gaste met slegs kyke kan kommunikeer. Een kyk beteken “tel die volgende spreekbeurt op”, ’n ander kyk beteken “nou’t jy te lank aan gegaan met daai grappie”.

Ons vrouens gee nie meer om as ons vir mekaar oogknip nie. Hulle weet ons is besig om te werk.

–Andries

Voor ons die gesprek aflsuit gesels die ouens vinnig ’n stukkie oor hulle helde, die manne wat hulle lief gemaak het vir stories.

Tolla se naam kom 97% op wanneer daar enige iemand oor stories praat, en Jan Spies en PG du Plessis. Die groot honne.

-Pietman

Selfs 20 jaar na sy dood is hy steeds die grootste legende in storievertel. Hoeveel lewens moes oom Tolla dan aangeraak het? Hoeveel lekkerte het hy dan voorsien!

-Andries

Die rede hoekom hy so groot sukses was, is omdat hy tussen almal gelewe het. As hy terug kom in Clanwilliam het hy met sy werkers gesels. Sy grootste bate was sy waarnemingsvermoe: om enige ding te sien en dan die snaakse uitkomste te kan beleef of skets. Dis ’n positiewe mense wie se kop so werk. Omdat hy in voeling was met die hele land en sy mense. Dis hoekom hy so baie stories gehad het.

-Pietman

Soos die spesiale karakters wat hulle beskryf, is Pietman en Andries ook maklik om te verstaan en te geniet, maar moeilik om werklik soos hulle is neer te pen. So goeie storieverteller, is ek nou nie.  Ek kan hulle aksente, hulle maniertjies, en hoe gereeld in die onderhoud hulle my laat lag het, probeer verduidelik, maar ek sal julle eerder aanraai om hulle self te beleef, vanaf 7 Julie elke Vrydagaand op Kyknet.

Wat vir my die meeste uitstaan uit hierdie hele avontuur is dat ons 5000 km in twee weke kan ry, ’n 140 storievertellers gesien het, en dat die krag van stories en die kern van storievertel nog in elke huis bestaan. Mense sê dit sterf uit omdat die groot ikone weg is, maar ons sit nog hier en mense kom kyk, want hier word weer stories vertel.

-Andries.

13350242_1130862330317987_2722610159306599899_o

Source: Oppiestoep

 

Advertisements
About Anna Greenfield (30 Articles)
Anna is a creative writer with a background in radio and theatre. One day, when she becomes a proper adult, she will direct and produce movies and have a big boat and a little baby with her dashing (and also height appropriate) husband Dean.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: