Advertisements
Don't miss out...

Eet, engele en ek

Sy is net voor al die gaste arriveer klaar met alles.  Betyds.  Dit is ook ’n gedagte wat verby flits saam talle ander.  Sy vee haar hande aan haar voorskoot af voor sy hom afhaal en in ’n bondeltjie in ’n wasmandjie gooi.  Dan steek sy haar los hare vinnig op, maar dit lyk of haar vingers weet wat om te doen.  Sy vermy dus die spieël.  Ek loop sirkels deur die huis agter haar aan. Dan met ’n skeplepel soontoe en dan met ’n bak doer kant toe.  Weer met paar glase soontoe en terug met ’n ander stel bordjies.  Dit ruik lekker waar sy loop.  Dit ruik soos duur beminde parfuum.

Die tafel lyk soos ’n prentjie.  ’n Lang uitgestrekte beeld van mooi. Ek gaan sit.  Vir ’n oomblik kyk ek na die gesigte om my.  Almal lag en is vrolik en getuig van ’n rustigheid in die beendere. ’n Vergenoegdheid heers.  Ek sien so baie engele. “Het ons almal gesterf?”, wonder ek.   Ek gee ’n benoude laggie en knyp myself tog.

Haar kos vul al die oop plekke op die lang pragtafel.  Slaaie en ’n vars brood.  Groentes en geregte wat reeds ’n fees is vir die oog.  Die wyn spoel my keel koel.  Dit is heerlik.  Die engele vermeerder.  Ek sien haar uit die hoek van my oog, ook sy is ontspanne.  Sy lag, maar nie hoorbaar nie, net met haar oë.  En my oë bars laggend agterna.

Die engele jubel.  Sy bedien ’n poeding wat ons almal toe ten eindelaas regtig hemel toe stuur.  Ek knyp myself weer.

Ure later toe die swaar lywe een vir een verdwyn met ’n tevrede gelaat op die gesig, raak die hemel baie stil.  En sy ook.  Ek probeer stil beweeg.  Die houtvloer kraak.  Sy vee oor die tafeldoek soos ’n reisiger oor ’n wêreldkaart.  Krap die harde deeltjies kos met haar duim af en glimlag.

Dis ’n stille ontdekking.  ’n Soektog en dit gebeur binne die buitelyne van ’n uur.   Die ure na gekletter en geklatter van borde en messe en die kraak en breek van brood en  suur souse en slaaie.  Na die klingel van glase, soos lywe teen mekaar, van plesier en borrels van opgewondenheid uit wyne en die yskoue druppels van gesmelte ys.

Die vlekke, die kolle, dis anders as merke.  Dis ’n skoonuur van salig onthou en herleef.  Met eens geskied die kuier van voor af.   Die gefrommelde servette word ’n verhaal van smul en feestelik proe en die spiertjies wat omkrul in die hoeke van monde om ’n tafel van sorgloosheid.  Die krummels word roetes oor die heen en weer van samesyn.  Die vetkolle word ’n uitbarsting van lag.  Sout en peperkorrels getuig van smaak en soeke. Die sensasie wat bars in iemand se mond en weer in hare en van ver af weer in myne.  Die vlekke word ’n permanente herinnering van die luim en lafheid die lekkerte.  Die tafeldoek word ’n kaart van ontspanning.  Gaste en geure en deel en dans.

Hierdie word ’n wêreld op sy eie.  Ek sien hoe sy daarin verdwyn.  Sy sit eers lank voor sy opstaan en die stoel moeiteloos instoot.  Saggies want haar huis slaap.  Ek knyp myself.

 

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: